NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA GEMEENTE KLERKSDORP-OOS MÔRESTER | |
  |
Vir baie motoriste wat tussen Potchefstroom en Wolmaransstad, deur Klerksdorp reis, is die twee kerke so-te-sê langs mekaar 'n bekende baken. Die kergebou die naaste aan SENWES se hoofkantoor is die gebou van die Presbiteriaanse gemeente. Die groter gebou met die weerhaan op die kerktoring, is die gebou van die Hervormde gemeente Môrester. Die ouer inwoners van Klerksdorp ken die gemeente nog as die Hervormde gemeente Klerksdorp-Oos. Dit is nou net so bietjie meer as 'n jaar gelede, net nadat de gemeente 50 jaar oud geword het, dat daar besluit is om die gemeente se naam te vernuwe in lyn met die hernude ywer en nuwe missie wat die gemeente dryf. Die naam Môrester is ontleen uit Openbaring 22:16 waar ons Here Jesus sê: “Ek is die helder Môrester”. As Môrester is ons Here nie net vir ons die Here van die here nie, maar is Hy ook vir ons die seker aanduiding van 'n nuwe ewige dagbreek in God se skepping. Soos die môrester in die laaste nagwaak die blye boodskap bring dat die sonsopkoms naby is. So is ons Here Jesus vir ons die draer van God se Blye Boodskap dat die aardse bestaan wat dikwels donker en koud is, ook deur die son van God se liefde verander sal word. Gemeente Môrester wil hierdie goeie nuus uitdra na almal wat wil luister! Gemeente Môrester word tans bedien deur ds. Stephan Botha. Ds. Stephan het sy studies aan die einde van 1994 voltooi, en Môrester is die tweede gemeente wat hy bedien. Hy het gedurende Maart 1997 by die gemeente begin, en voel baie dankbaar teenoor die Here vir die seën wat hy saam met die gemeente uit Gods hand ontvang. Die gemeente het gedurende 2000 'n gemeentebou proses begin wat reeds heelwat vrug opgelewer het. Nie net die bediening na binne het gedy nie, ook die bediening van God se liefde aan die gemeenskap. Die gemeente is betrokke by die voeding van minderbevoorregte laerskoolkinders uit die breë gemeenskap. Hulp word ook gegee by die Provinsiale hospitaal, waar daar gereeld sterk gegeurde gemmerkoekies en ander verversings aan die chemo pasiënte voorsien word. Die koekies help veral om die slegte smaak wat die terapie veroorsaak te verdoesel. Die lidmate van gemeente Môrester kyk met hoop na die toekoms. Vir etlike jare het die gemeente doodgebloei as gevolg van demografiese verskuiwings binne die afgebakende grense van die gemeente. Hierdie jaar het die ringsvergadering egter ingestem om die gemeente se area te vergroot. Die gedeelte van Flamwood, suid van Monicalaan is by Irene Park, Adamayview, Dawkinsville, Pienaarsdorp en die Middestad gevoeg. Die feit dat die ringsvergadering hierdie skuif goedgekeur het dui ook daarop dat daar ook buite die gemeente optimisme bestaan oor die gemeente se toekoms. Dit is die opregte gebed van elke lidmaat van gemeente Môrester dat ons nog vir baie jare ons missie tot eer van God sal kan uitleef: Om as huisgesin van God, Hom te aanbid, mekaar te versorg en met die Goeie Nuus van Jesus Christus uit te reik na alle mense. |